TOPVERMAAK BY GRATIS SUIDOOSTERFEES-KONSERT

Beatlemania Tribute show hits SA
January 12, 2018
News Anchor Chante Jantjies is a woman with ambition.
May 2, 2018

Drie van die Kaap se blinkste, jong sterre snoer vanjaar kragte saam in Kaapse draai, ’n gratis konsert wat as deel van die amptelike Suidoosterfees-program aangebied word.

Feesgangers kan uitsien na twee ure van topvermaak met die sangers Leagan Phillips-Laws en Jean Carlo, én die geliefde Namakwalandse woordkunstenaar Danneline Ramsden.

Die TV-persoonlikheid Ivor Price is die gasheer en regisseur. Hy sê: “Dink twee ure van vroegoggendvermaak vir die hele gesin. Leagan en Jean se stemme sal jou na jou asem laat snak, en beslis ook jou voete laat jeuk. En dan is daar Danneline se stories, in die tradisie van wyle Tolla van der Merwe, wat jou uit jou maag uit sal laat lag. Kaapse draai is dit alles – en soveel meer.”

Phillips-Laws, ’n akteur en sanger van Cravenby, het verlede jaar die koppe laat draai met sy veelbesproke eenmanstuk Sketches of Exes by die Galloway-teater. Hy was ook vroeër te sien in die musiekblyspel Rent.

Jean Carlo, wat in Namibië grootgeword het, se liedjies is baie gewild op Heart sowel as KFM. Hy is in Suid-Afrika gebore, maar het in Namibië grootgeword en musiek gestudeer.

Ramsden, van Komaggas in die Noord-Kaap, se storievertel-produksie Xhoulag is landwyd in aanvraag nadat dit verlede jaar by die Drostdy-teater uitverkoop het. Sy het ook intussen mense laat skater by die Woordfees en die gewilde kykNET-program Oppiestoep.

Kaapse draai is op So. 29 April van 10:00 tot 12:00 by die Kunstekaap-teatersentrum. Toegang is gratis en geen voorafbespreking is nodig nie.