BOEREVERNEUKERS Deur Izak Du Plessis

Top golfers confirmed for Nedbank Golf Challenge 2017
2017-10-17
#metoo and the Danny Jordaan saga
2017-10-20

BOEREVERNEUKERS DEUR IZAK DU PLESSIS

BOEREVERNEUKERS DEUR IZAK DU PLESSIS
Hulle beskik meestal oor ál die hoedanighede wat maak dat jy van iemand hou: sjarmant, galant, elegant, belese, berese, gelowig, bedagsaam, selfversekerd, hiperintelligent en ʼn hele boel ander aangename persoonlikheidskenmerke wat hulle die ideale bure maak. Maar eintlik is hulle glibberige gladdebekke wat jou in ʼn ommesientjie platsak gaan laat. Want hulle lieg, bedrieg, gee voor. Hulle verdraai, verdoesel, verduister, verwoes. En as jy jou oë uitvee is jy nie net jou geld kwyt nie, maar ook jou reputasie en status, terwyl die gladdebek lankal soos mis voor die son verdwyn het. Sommige van hulle is so goed dat hulle selfs bewonder word ten spyte van die verfoeilikste skelmstreke.

Boereverneukers vertel die stories van Afrikaanses wat van ons land se grootste skelmstreke gepleeg het. Van die karakters is minder bekend, maar ander het byna mitiese status in die Afrikaanse psige verwerf, soos die kubuskoning Adriaan Nieuwoudt, die pynmasjienman Gervan Lubbe, die kamma-pediater André Esterhuizen, die Hertzogville-profeet David Francis en die beesbaron Arnold Smith. Selfs die ikoon van die Afrikanerdom, president Paul Kruger, het vir hom ʼn plekkie in die annale van Boereverneukers geskrop.
Dalk help hierdie stories jou om vir jouself te lag, aan te gaan met jou lewe en voortaan versigtiger te wees as jy dalk al die slagoffer van ʼn Boereverneuker was.

DIE SKRYWER
Izak du Plessis is ’n veelbekroonde radiojoernalis en aanbieder by RSG se nuusprogramme Monitor en Spektrum. Hy wen ATKV Mediaveertjies in 2015 en 2017 en in 2016 word hy aangewys as die Vodacom nasionale joernalis van die jaar vir radiobydraes. Van sy gedigte is opgeneem in Nuwe stemme 5. Sy grootste prestasie in die lewe is sy twee kinders, Mia en Hendro, vir wie hy onmenslik baie lief is.

Die boek is by alle goeie boekhandelaars beskikbaar.